Is jy ‘n goeie vriendin?

Ja natuurlik! Dit is die meeste vrouens se eerste reaksie. Is jy werklik?

As ‘n vriendin jou skakel, val jy sommer dadelik in met klaagliedere oor jou man, jou huis, jou skoonma wat kom kuier? As jou vriendin nog iets probeer sê, val jy haar sommer in die rede en begin vertel van jou kinders se goeie punte of wedstryde wat hulle gewen het?

Is jou hartseer altyd die belangrikste? Is jou swaarkry altyd die ergste? Is jou hart heeltyd stukkend sonder om een keer te vra “Hoe gaan dit met jou vriendin”?

Vat jy net altyd en gee niks terug nie? Suig jy soos ‘n spons jou vriendinne se goedheid en omgee op sonder om ooit iets terug te gee? Gaan dit net oor die eie ek?

Wat is die eienskappe van ‘n goeie vriendin?

‘n Goeie vriendin is nie jaloers op jou nie, nee, sy gun jou die nuwe rok of die bevordering en is saam met jou bly.

‘n Goeie vriendin dink jou kinders is die wonderlikste bloedjies onder die son en sien jou kinders haar, as familie.

‘n Goeie vriendin kan jy vertrou met jou lewe en jy weet sy sal nooit die geheime wat jy met haar deel ooit met iemand anders bespreek nie.

‘n Goeie vriendin is die enigste persoon wat saam met jou ‘n tranetrekker sal kyk en saam op jou skouer huil oor die hartseer einde.

‘n Goeie vriendin is iemand wat saam met jou opgekrul op ‘n bank kan sit en ure lank kan gesels oor die nuutste grimering, klere of verhoudings sonder om verveeld met jou geselskap te raak.

‘n Goeie vriendin sal verstaan as jy in trane is as jou goudvis dood is.

‘n Goeie vriendin sal vir jou bid as sy nie meer antwoorde het nie.

Goeie vriendinne is dun gesaai. Goeie vriendinne is ook nie noodwendig jou skoolmaat of jou vriendin by die werk nie. Nee dit het niks te doen met die jare wat julle mekaar ken nie. ‘n Goeie vriendin is soms die meisie wat jy ontmoet toe jy met ‘n pap wiel langs die pad gaan staan het. Ja, sy was die enigste een wat bereid was om te stop om jou te help. ‘n Vriendskap wat sommer so toevallig gebeur het.

Jy het nie vrae gevra nie maar die omgee in haar oë en die dankbaarheid in jou hart het julle gebind.

Dis die gee en die neem van die lewe.

Dis die daar wees vir mekaar.

Die omgee.

Is jy ‘n goeie vriendin?

Gaan kyk na jou verhouding met jou vriendinne en besluit vandag om eerder, voor jy vra, te gee.

Om te troos voor jy self getroos wil word.

Om te luister voor jy self praat.

Om te bid as jy nie antwoorde het nie.

Ons is soms so geneig om bakhand in ons verhoudings te staan dat ons nooit die seer en pyn in ander raak sien nie. Ons almal, ek en jy gaan deur die lewe met ons eie sak bagasie wat ons soms grond toe wil trek. Ons het elkeen ons eie hartseer, ons eie verliese waardeur ons moet werk. Dis nie net jy nie!

Van swaarkry in hierdie wêreld is daar baie. My seer is nie minder werd as jou seer nie. Seer bly seer. Hoe diep of hoe vlak mens se seer lê, ons almal verwerk dit op ons eie unieke manier.

Hoe is mens ‘n goeie vriendin?

In enige verhouding gaan dit oor gee en neem en daar moet ‘n balans in wees. Om net te gee en niks te ontvang nie werk ook nie en gaan jy so ‘n vriendin verloor.

Luister en praat minder;

Glimlag as jy jou vriendin vra hoe dit gaan;

Bel haar en SMS haar gereeld om kontak te behou en haar te laat voel sy is spesiaal;

Onthou haar verjaarsdag;

Respekteer haar huwelik en haar man of haar verhouding;

Moet nooit van haar skinder by ander vriendinne nie;

Moet haar nooit laat voel dat haar probleme van minder belang is nie;

Moet haar nooit minderwaardig laat voel nie;

Lag saam, daar is geen beter medisyne as dit nie!

Dit wat ons saai in ons vriendskappe, die blomme, die lag en die omgee, dit alles ontvang ons tog op die ou einde weer in ‘n dubbel dosis terug. Dit laat ons mandjies oorloop van liefde vir ons naaste, ons gesinne en ons vriendinne.

‘n Goeie vriendin is:

‘n lag vriendin;

‘n saam huil vriendin;

n blomme vriendin;

jou beste vriendin.

Waardeer haar!  Wees lief vir haar!  Wees daar vir haar!

4 thoughts on “Is jy ‘n goeie vriendin?

  1. Pragtig lief Riana..Ek streef daarna om ‘n goeie vriendin te wees..Dit is maar moeilik deesdae met al die politiek en gevolge van moorde in ons land. Juis nou moet ons vrouens saamstaan. Behoort ons baie meer vriendinne te he. Maar dit gaan maar nog steeds oor wie se “liggie” skyn die helderste in die betonoerwoud..

    Ek skiet ver tekort..Sal streef daarna om vir my vriendinne die ideale een te wees. Weet net, my skouer is altyd daar vir jou..en my oor en mond se konneksie is lankal afgesny..xxx

    • Hi vriendin, weet jy wat jy is baie meer van ‘n vriendin as wat ek kan se van vriendinne wat ek jare ken. Dis die sad stuk. Dis waaroor dit gaan. Baie keer is dit jou vriendinne wat jy al jare ken wat veronderstel is om daar te wees wat nie is nie, maar jy moet altyd daar wees vir hulle.
      Ek skiet ook baie tekort en ek het lank gesit en dink voor ek dit geskryf het en dis maar iets wat ons almal aan skuldig is, die gejaag van die lewe en alles wat saam dit gaan dat ons eintlik alles mis! Maar ek het ook tot die besef gekom dat mens tog meer oop is vir vriendinne wat ook in jou belangstel as net die mensies wat altyd vat vat vat.
      So maatjie, dankie dat jy altyd daar is vir my, jy beteken so baie vir my. Ek is so bevoorreg om jou as ‘n vriendin te he! Love you lots xx

Leave a comment